Auction update

We are busy editing the photos and creating pedigrees for our planned auction on 16 June 2020.

Lots will be loaded for viewing in the next week or so. We will keep you posted.

Duiweboere en hul dinge…

(Hannes Grove – http://www.grovelofts.co.za)

Kom ons vlieg Noord dan wys ek jou hoe vêr wen ek! Nee wag, kom ons vlieg Wes dan is ek koning! Wat van Oos? Of Suid? Of miskien reguit boontoe?!

Duiweboere en hul dinge. Eintlik wil die meeste van ons maar net duiwe vlieg en dit geniet. Al hierdie ander dinge en politiek is nie vir ons lekker nie!

Ons was bevoorreg om in 3 organisasies te kon deelneem gedurende ons duiwe loopbaan tot dusvêr. En dit gaan oral dieselfde. Dwarstrekkers en moeilikheidmakers is oral. En dan is daar natuurlik die paar gewillige esels wat altyd maar die sport aan die gang hou – sonder betaling of veel erkenning maar vir die liefde van die sport.

Vir my bestaan daar volgende kategorieë duiweboere:

  1. Die “big-shots” – Hulle weet alles – of so dink hulle! As daar planne gemaak word, dan het hulle altyd ‘n beter plan. As iemand ‘n lekker wen vlieg of ‘n veelvoudige wenner oplewer, dan het hulle dit ook al reggekry – jare terug al! Hulle duiwe is die beste. Die ander ouens kan maar vergeet om beter duiwe of metodes te hê…
  2. Die “moaners” – hierdie ouens vind fout met alles. Dan is die duiwe tussen drade gelos. Of die duiwe is wit mielies gevoer pleks van geel mielies. Of hulle duiwe kom so swak want hul ry onder op die trok en die rook “vergas” hulle duiwe. Tydens al hierdie slim aantuigings vergeet hul gerieflikheidshalwe van die mede klub en unie lede wat se duiwe onder presies dieselfde omstandighede daarin geslaag het om wen tye aan te teken. Nee dis mos makliker om fout by iemand of iets anders te soek…
  3. Die “dwarstrekkers” – Hierdie manne wil moeilikheid hê. Hulle floreer as daar spanning is en gemoedere hoog loop. Groepies vorm en die ouens hits mekaar aan. Naderhand is almal so naby breekpunt dat selfs die klienste dingetjie die bom laat bars en die ouens begin vuisslaan… My persoonlike opinie is dat ‘n groot deel van hierdie woede aangevuur word deur jaloesie. Die een gun die ander niks. Wat het geword van goeie sportmanskap? Dis duiwe wat teen mekaar kompeteer! Dis veronderstel om lekker te wees! Wie wil nou met ‘n blou oog by die werk aankom en skaam-skaam verduidelik dat ‘n ander duiweboer jou gepot het omdat jou duif syne gewen het?
  4. Die “smeek-my-op-jou-knieë-om-iets-te-doen” – Sommige mense blyk ‘n vreemde plesier daaruit te put dat ander mense hul smeek om iets te doen. Hierdie mense is gewoonlik uiters bekwaam maar hou daarvan om ander mense van hul onmisbaarheid bewus te maak. Duiwe vlieg is ‘n stokperdjie. Niemand voel lus om ander te smeek vir gunsies en gawes nie. As jy nie in ‘n pos wil dien nie – moet dan nie. Maar as jy wel ‘n pos aanvaar – doen dit dan voluit sonder om die lewe vir ander onnodig moeilik te probeer maak!
  5. Die “gewillige esels” – Klubs en organisasies se bestaan hang gewoonlik van hierdie lede af. Hul is altyd gewillig om die sport te dien en te help waar hul kan. Nie noodwending op die bestuur nie – almal beskik nie oor dieselfde talente nie. As daar ‘n funksie is, is hul daar. As daar ‘n vergadering is, is hul daar. As daar iets moet gebeur en hul kan help, dan help hul.
  6. Die “spook duiweboere” – Hierdie ouens handhaaf ‘n baie lae profiel. Hul doen so min as moontlik. Hul veroorsaak gewoonlik ook min probleme. Eintlik wil hulle net duiwe vlieg en vergeet van die res. Ongelukkig is daar dinge wat moet gebeur voor ons kan duiwe vlieg manne!

As jy vandag hierdie artikel gelees het en die skoen skoen pas… En hy druk dalk so bietjie… Dan is ek bly! Dink bietjie voor jy doen. Neem ander in ag. Neem die sport in ag. Dink aan jou span duiwe wat sonder enige voorwaardes honderde kilometers aflê en dit vir JOU plesier!