Watter duif moet wedvlug toe?

Watter duif moet wedvlug toe?

Dit is sekerlik ‘n vraag wat ons al almal mee geworstel het. Hoe maak ‘n man nou as jy met 80 potensiele wenners sit en slegs 20 mag mandjie… Nogal ‘n moeilike keuse.

Ek sien myself glad nie as ‘n meester op die gebied van duiwe uitsoek op “vorm” nie. Nee daarmee is ek maar dom. Ek vergaap my aan al die teoriee wat ek op sosiale media aanskou. Tekens van vorm wat eknie verstaan nie. En moenie my verkeerd verstaan nie, die goed kan dalk tekens wees maar ek het nie kennis of ondervinding daarvan nie. “Die vyfde kolletjie op die vierde veer, links van die regter been, net suid van die Noordpool”. Ek dink ouens lees dalk te veel in hierdie goed.

Daar is ‘n paar goed waarna ons egter wel oplet. Ek glo daar is iets soos vorm ja. Vorm is eintlik maar top fiksheid en top gesondheid in my boek. Dit is duidelik waarneembaar as ‘n hok reg is om te presteer.

Tekens waarna ons oplet:

1. Perfekte bolletjies mis met wit kappies. Nie te groot nie en ook nie te klein nie. Te groot, dan voer jy te veel. Te klein, dan voer jy te min of jou duiwe suip te min water – dalk bietjie te sterk muti in die bak.
2. Donsies wat gesaai is om die bolletjies mis. Baie.
3. Duiwe wat blink soos bottels. Vere lyk of dit opgeverf is en amper soos een soliede veer. Niks vere uit plek nie – almal perfek op hulle plek.
4. Sagte vere. Duiwe gly deur jou hande. 
5. Lewendige duiwe. Duiwe wat pronk. Hulle lyk lus vir die lewe en jaag mekaar rond. Die mannetjies is lastig, en die wyfies sleep vlerk. As jy bad gee spring hulle soos malletjies daarin en stoei mekaar vir ‘n plekkie.
6. Skoon kele wat mooi pienk is. Geen slym nie en mooi langwerpige asemhalingsplete. Min tot geen beweging van die spleet nie. Splete wat erg oop en toe maak, is ‘n probleem – behalwe as dit ‘n senuagtige duif is.
7. Vol rond in die hand maar nie opgeblaas soos ballonne nie. Sagte soepel spiere.
8. Spierwit neusvratte. Dit moet lyk of die neuse met wit bordkryt ingekleur is.
9. Helder lewendige oe. GEEN oogvliese wat uithang of nat oe nie!
10. As jy jou duiwe gaan toss, moet hulle onmiddelik pad vat huistoe. ‘n Pak wat draai dui op probleme… As hulle skerp is en vorm het sal hulle dadelik ore platrek huistoe.

As ons veronderstel jou hele hok kwalifiseer volgens gemelde punte hierbo – hoe kies jy nou daardie top 20 wat jou Saterdag moet trots maak?

‘n Meer wetenskaplike/statistiese benadering word hier gevolg. Elke duif moet regverdig behandel word en die kans gegun word om te presteer. Seleksie word op prestasie geskoei en as die duif nie kans kry om te presteer nie, dan is dit nie regverdig nie.

In kort word die volgende benadering gevolg:
1. ‘n Spreadsheet met elke duif word opgestel.
2. Elke langer toss of wedvlug word bygehou op die spreadsheet.
3. Die eerste 20 duiwe kry punte volgens die posisie wat hul by die hok arriveer. Die elektroniese klokke maak dit mos maklik. So die eerste duif kry 20 punte en die 20ste duif 1 punt.
4. Die gemiddeld per duif word uitgewerk en in die spreadsheet bygehou. Na ‘n paar vlugte styg die beter vorm duiwe na bo op die spreadsheet.
5. Op die kortpad gaan die eerste 5 duiwe terug wedvlug toe – indien hulle kondisie dit toelaat. Middel en langpad word duiwe elke tweede week gevlieg.
6. Hierna word elke tweede duif in die lys oorweeg. So nommer 1, 3, 5, 7… vlieg die naweek en 2, 4, 6, 8… vlieg volgende naweek. So word daar balans van vorm duiwe gestuur en tuis gehou – ons moet darem volgende naweek ook kan saam gesels.
7. Daar is nou nog plek vir 5 duiwe. Die duiwe onder op die lys word gebruik om hierdie plekke te vul – so kry hulle kans om te presteer. Baie keer kom hierdie duiwe eers later op vorm en as hulle nie gemandjie word nie, sal jy nooit weet nie. Heelwat verrassings het al hier uitgespring.

So nou is daar 20 moontlike kandidate. Die lys word geskaaf en verfyn tot en met mandjie aand. Duiwe wat se kondisie nie reg lyk nie word afgehaal. Duiwe wat jou aandag trek word bygevoeg.

Ons kom weer terug na OBSERVASIE. Hou jou duiwe dop. Kom ek verduidelik dit aan die hand van ‘n staaltjie. 

Gedurende 2012 is ons in ‘n taai stryd gewikkel om die THU/GPU jongduif punte vir die tweede agtereenvolgende jaar te wen. “Crunch time” soos die Engelsman sou se… Die wedvlug afstand is al stewig oor die 600km en die naweek se voorspelling is taai… Moontlike oornag vlug. Nou wat doen ‘n man nou? Die span is uitgesit en ons moet hoop vir die beste. Een duif sal net moet deurkom om die punte vir ons te wen. 

Mandjie aand word die duiwe gevang. Daar is die heeltyd die een duif wat in my pad is. Hang teen die deure en begin my later bietjie irriteer. Ek vang en bekyk haar. 10184. Deksels mooi. Perfekte kondisie. Sy het die vorige naweek gevlieg en baie goed presteer. Normaalweg dubbel ons nie duiwe op daardie afstand nie. Ek sit haar terug in die hok, maar sy bly uit haar karakter optree. Heeltyd in my pad. Teen my sin word sy toe in die span gesit.

Saterdag breek aan. Die groot wag en opwinding begin. Later is dit skemer. Die duiwe brul. Skielik swaai ‘n duif! Daar word gehardloop en geklok. Dis ‘n jonge. 10184! Enigste jonge die dag terug in ons hok. Later vind ons uit dat ons teenstander vir die punte kampioenskap niks duiwe terug het op die dag nie. 10184 wen vir ons die punte kampioenskap! As sy nie gelaai was nie, was dit neusie verby. HOU JOU DUIWE DOP!!